Description
Ami het geweet die dag gaan kom dat sy moet afskeid neem van Paul de Jager, die afgetrede polisiegeneraal wat met mening teen alzheimers baklei het.
Maar wat sy nie verwag het nie, is sy laaste opdrag aan haar: Sy moet met behulp van sy drie eksvroue na ’n onopgeloste saak uit die 1990’s kyk.
Die drie weduwees, soos hulle genoem word, is aanvanklik ewe min lus om aan Paul se versoek gehoor te gee. Wanneer ’n vyftienjarige seun van Pretoria op pad kafee toe met net R20 in sy sak spoorloos verdwyn, behoort daar tog iewers ’n leidraad te wees –
iets meer as die wit paneelwa wat daardie dag in die straat opgemerk is.
Met haar eerste besoek aan die Moot besef Ami sy is in die moeilikheid. Hierdie storie gaan haar heel insluk en eers uitspoeg as die boomryke buurt se laaste geheim blootgelê is.
Die drie weduwees is die vierde boek in hierdie opwindende misdaadfiksiereeks. Dit volg op Minder as niks, Die verkeerde vrou en Al wat tel, maar kan ook alleen gelees word.