Description
Nicci de Wee is weer op die spoor van ’n nuwe booswig … en hierdie keer is dit persoonlik. Een van haar eie spanlede, Stella, word vermis. Het sy bloot op die ingewing van die oomblik weggegaan omdat sy ’n blaaskans van alles en almal nodig gehad het, of is sy ontvoer? Nicci kan nie die gevoel afskud dat Stella die nuutste slagoffer van die diaboliese krimineel is wat talentvolle jong vroue in openbare plekke teiken en hulle oënskynlik in die niet laat verdwyn nie.
Niemand weet wie hierdie ontvoerder is of wat hy aan die vermiste vroue doen nie. Hy is ’n spook, ’n onsigbare en ontasbare skim. En hulle kan nie uitpluis hoekom die klokke so onheilspellend lui, of wat die betekenis is van die klein silwer klokkies wat die skurk op die misdaadtonele los nie.
Te midde van die sirkelende ondersoek word Nicci ook oorrompel. Sy herwin haar bewussyn in ’n afgryslike nagmerrie van haar eie ... Vir Blackie en Henk word dit ’n verbete wedloop teen tyd. Hulle moet Nicci vind voor dit te laat is, ás dit nie alreeds is nie ... Is die duiwel wat hulle jag die een wat haar geneem het, of is daar iemand selfs meer sinister agter alles?
Iemand wat hulle dalk oorgeslaan het in hulle berekeninge?
Wyngaard het geen probleem daarmee om die karakters in haar boeke af te maai nie. Wat die bloedstollende vraag na vore bring ... Kan hierdie dalk Nicci de Wee se finale speursaak wees?