Description
Soois Swart bedryf sy sukkelende koerantjie op die dorpie Erdvark in die Knersvlakte waar die afwesigheid van moderne tegnologie groot uitdagings aan hom stel. Met die naderende munisipale eleksie vermenigvuldig sy kopsorge.
Vir die eerste keer in ’n dekade word die regerende BA Minus deur twee ander partye teengestaan. Burgemeester Duimpie du Plooy dreig om sy kompos-onderneming se advertensies uit die koerant te onttrek indien hy ontevrede is met wat Soois skryf.
Soois moet ’n koorddans uitvoer tussen goeie joernalistiek en beriggewing wat nie aanstoot gee nie. Geensins ’n maklike taak nie, gegewe die talle strydpunte – die brandenste een die afwesigheid van spoeltoilette op die dorp. Die BA Minus is vurige kampvegters vir die
behoud van kleinhuisies en die opposisie driftige voorstanders vir vernuwing.
Wanneer ’n horingadder in ’n kleinhuisie sy tande in ’n kwesbare deel van ’n inwoner slaan, klap die eerste eleksieskoot amptelik. Van daar af gaan dit doller as kopaf.