
Mans En Hulle Wonde
Mans En Hulle Wonde - 'n Eeu Van Woede (Afrikaans, Paperback)
Loot · checked 3 days ago
- Average
- R 188.00
- Lowest seen
- R 172.00
- Highest seen
- R 220.00
- Last change
- R 32.00
- First indexed
- 16 Sep 2022
- Retailer
- Loot
Description
Die man is om verskillende redes in die 21ste eeu in die moeilikheid, of dit is as gevolg van “die opkoms van die feminisme en gays wat hulle regte opeis” of omdat “die Kerk sy houvas op die Westerse samelewing begin verloor (het) en daarmee saam die patriargale ingesteldheid wat so lank die botoon gevoer het”. Metelerkamp noem dat Van Rensburg navorsing vir sy boek begin doen het tydens die verhoor van Oscar Pistorius. Pistorius se verhaal van woede en geweld word ’n argetipiese Suid-Afrikaanse (Afrikaner-) storie wat deurlopend weerklank vind in die lig van ander stories, mites en sprokies.
Bybelse gelykenisse en verhale en hulle karakters word ook vanuit die perspektief van die analitiese sielkunde gelees. Dit sorg vir verfrissende interpretasies waarin Van Rensburg byvoorbeeld deur die lens van pa-en-seun-verhoudings na Bybelverhale kyk. Dis opvallend hoe dikwels Bybelkarakters die teenhangers van ander vorm (Kain en Abel, Abraham en Lot, Moses en Aäron, Eli en Samuel, Dawid en Saul, Dawid en Jonathan, Jesus en Johannes, Jesus en Petrus, Paulus en Timoteus). Dit sluit aan by droomontleding wat die besef bring dat verskillende karakters in dieselfde droom verskillende aspekte van dieselfde persoonlikheid kan verteenwoordig. Só is dit ook met sprokies die geval.
Vernaam in Van Rensburg se ontleding is dat die “moederkompleks” in die manwordproses aangespreek word sodat die “stryd met die moeder” op ’n manier besleg word. Wat my interesseer het, is dat die Kerk (generies gesien) dikwels as plaasvervanger vir die moeder dien. Seuns moet analoog aan sprokies op ’n “heldereis” gaan waarvoor hulle manlike mentors nodig het. Maar dan moet jy ook “begin by jou pa” en jou pa “agterlaat” deur hom te leer ken of verstaan.
Woede, eensaamheid en pyn kom volgens Van Rensburg algemeen onder mans voor te midde van hulle hunkering na geborgenheid en sekuriteit. Dis dikwels vir hulle moeilik om los te breek uit die gevangenskap waarin patriargie en gemeenskapsverwagtings hulle dompel. Dis juis die onvermoë van mans om met hulle gevoelens in aanraking te kom en dit te verwoord wat deurbreek moet word. Sprokies leer ons dat die skadukante van die persoonlikheid integrasie nodig het en dat mans die vrou in hulleself moet ontdek en omhels.
Van Rensburg sê dat Mans en hulle wonde nie ’n selfhelpboek met kitsresepte of -oplossings is nie. Hy is selfs nie baie krities oor Angus Buchan se Mighty Men-beweging nie en beskou dit as simptomaties van die krisis waarin mans verkeer en hulle behoefte aan geleenthede om uiting aan hulle emosies te gee. Hy vertrou dat dit wat in die boek ’n indruk maak, “in die onbewuste (sal) bly spook” met antwoorde wat mettertyd oprys.